WES-KAAP. – ‘n Emosionele soektog van 11 dae lank op Tafelberg het Donderdogoggend ‘n gelukkige einde gehad toe Pepper, ‘n klein terriër, veilig met sy eienaar herenig is.
Wilderness Search And Rescue (WSAR) sê op sosiale media Pepper het Sondag 15 Junie weggehardloop nadat ‘n ander hond hom tydens ‘n stap by Oudekraal gejaag en hy uit sig verdwyn het. Vir sy eienaars – Erwin en sy familie – was dit hartseer, Pepper was immers een van die laaste lewende skakels met Erwin se oorlede vrou.
Elke oggend, vir elf dae aaneen, het Erwin van Stellenbosch af na Tafelberg gery om te soek en elke aand sonder sy hond huis toe gegaan. Die soektog het hom self twee keer in die moeilikheid laat beland, eers toe hy op die Pipe Track deur stappers moes gehelp word en weer toe hy en ‘n ander man op ‘n onstabiele rotsrand in die Slangolie-ravyn vasgekeer geraak het en deur reddingspanne afgebring moes word.
Wat begin het as ‘n familiesoektog, het vinnig in ‘n hele gemeenskapspoging ontwikkel. Bure, vriende en vreemdelinge het die storie gedeel, plakkate gedruk en aangebied om saam met Erwin te soek. Hommeltuie en speurhonde is ingespan en ‘n BackaBuddy-veldtog is selfs vir Pepper begin.
Woensdagmiddag, 24 Junie, is Pepper op die onderste hange onder die Corridor-ravyn raakgesien. ‘n Span van die Mountain Club of South Africa se reddingseenheid het hulle na die toneel gehaas en ‘n redder moes byna 70 meter afsak om die bang hondjie op ‘n rotsrand te bereik.
Die geliefde dier moes heel eerste water kry. Volgens James Smart van die K9 Search and Rescue Association of South Africa was Pepper te bang om nader te kom, totdat ‘n bekende troefkaart ingespan is – Woolworths-lewerpatee, met ‘n kalmeermiddel daarin versteek. Pepper kon dit nie weerstaan nie en toe hy ontspan, is hy met jasse toegegooi en veilig in ‘n reddingsrugsak vasgemaak vir die terugtog. Voor 05:00 Donderdagoggend was Pepper, Erwin en die reddingspan veilig van die berg af.
Nicole, Erwin se dogter, het haar dank uitgespreek teenoor almal wat gehelp het. “Julle het nie net ‘n hond huis toe gebring nie. Julle het ‘n bedroefde familie deur een van die swaarste tye van ons lewe gedra,” het sy gesê. Pepper is tuis en herstel goed na ‘n stewige ete, ‘n bad en ‘n lang slaap.








