GAUTENG. – ’n Gesoekte en gevaarlike vermeende kriminele meesterbrein is Sondag in Carletonville doodgeskiet tydens ’n intelligensiegedrewe operasie deur die polisie se nasionale intervensie-eenheid (NIU).
Volgens polisiewoordvoerder, brig. Athlenda Mathe, is NIU-lede na ’n woning waar die verdagte vermoedelik tuisgegaan het. Die polisie het hul teenwoordigheid aangekondig en hulself as polisiebeamptes geïdentifiseer. Die verdagte het glo ‘n AK-47 op die polisie gerig, waarna die beamptes hom noodlottig gewond het. ‘n AK-47-geweer en 125 rondtes AK-47-ammunisie is op die toneel gekonfiskeer.
Mathe sê die oorledene was aan die polisie bekend as een van die gevaarlike onwettige mynbou-kingpins wat in die Carletonville-gebied bedrywig was. Hy het volgens die polisie glo ’n sentrale rol gespeel in die voortslepende konflik tussen twee mededingende onwettige mynwerkersgroepe in die gebied.