Brekende Nuus
Misdaad

Vermeende reeksverkragter vas ná 16 beweerde verkragtings

’n 46-jarige man wat volgens die SAPD aan 16 beweerde verkragtings verbind word, is in hegtenis geneem ná ’n intensiewe ondersoek deur gespesialiseerde polisie-eenhede.

vermeende reeksverkragter vas 16 beweerde verkragtings
Foto: Ter illustrasie

CATO MANOR. – ’n 46-jarige man wat volgens die SAPD aan 16 beweerde verkragtings verbind word, is Donderdag 17 September in hegtenis geneem ná ’n intensiewe ondersoek deur lede van die eenheid vir reeks- en elektroniese misdaad en die polisie se ondersoekende sielkunde-eenheid.

Volgens die SAPD het die man na bewering sedert 2014 vroue in Cato Manor en omliggende gebiede geteiken. Hy word daarvan beskuldig dat hy 14 vroue tussen 2014 en 2025 in Cato Manor en nog twee vroue, een in Plessislaer en een in Taylor’s Halt, verkrag het.

Die polisie beweer die verdagte het meestal snags toegeslaan en vroue van verskillende ouderdomme vanaf tavernes na hul huise gevolg. Hy het hulle na bewering daar verkrag en van hul besittings beroof.

In sommige gevalle het hy na bewering by huise ingebreek en vroue wat alleen gewoon het, met ’n mes gedreig voordat hy hulle verkrag het.

Die slagoffers kon hom volgens die SAPD nie identifiseer nie omdat hy sy gesig met ’n broekiekous bedek het.

Ondanks die gebrek aan direkte identifikasie kon die ondersoekers volgens die polisie die beweerde werkswyse verbind en die verdagte deur DNS-bewyse aan die sake koppel.

Die ondersoek is deur lede van bogenoemde eenhede, wat binne die SAPD se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe funksioneer, behartig.

Die verdagte sal na verwagting Maandag 21 September in die Durban-landdroshof voorkom. Hy staan tereg op verskeie aanklagte van verkragting, huisbraak en poging tot moord.

Die aanklagte is steeds bewerings en moet in die hof getoets word.

Bron: SAPD