WES-KAAP. – ’n Persoon is Dinsdag dood in ’n voertuig op die hoek van Fairtreesweg en Mountain View-rylaan in Bellville gevind. Volgens die polisie was die man en sy medeverdagtes glo besig om hul tweede slagoffer te beroof toe daar op hulle geskiet is.
Titanium Securitas sê ’n voertuig is na bewering teen ‘n hoë snelheid in Mispelweg opgemerk, voordat dit langs Fairtreesweg tot stilstand gekom het. ’n Persoon wat geen tekens van lewe getoon het nie, is volgens die veiligheidsmaatskappy in die voertuig gevind. Moontlike koeëlgate is op die voertuig waargeneem, maar die presiese omstandighede rondom die voorval is nog onbekend.
Bassett Alarms sê op sosiale media ’n veiligheidsbeampte het op die voertuig afgekom, nadat berig oor ’n verlate voertuig en ’n “bewustelose persoon” ontvang is. Die voertuig het ’n beskadigde regtervoorband gehad en die persoon is bewusteloos binne-in die voertuig gevind. Nooddienste is ontbied en ambulanspersoneel het die persoon op die toneel dood verklaar.
Volgens polisiewoordvoerder, konst. Ndakhe Gwala, is die man dood aangetref nadat ‘n omstander met ‘n gelisensieerde vuurwapen glo op ‘n bende geskiet het. Die verdagtes was besig om ‘n reeks rooftogte in Bellville en Durbanville te pleeg. Die polisie is omstreeks 10:30 ontbied, waarna die man met skietwonde in die voertuig aangetref is. Ná die skietery het die verdagtes in hul voertuig gevlug, maar kon net tot by Eversdalstraat kom voordat dit tot stilstand gekom het. Die oorblywende verdagtes het te voet gevlug en hul makker dood in die voertuig agtergelaat. Die polisie het twee klagtes van roof geregistreer, terwyl ‘n geregtelike doodsondersoek oopgemaak is om die man se dood verder te ondersoek. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Foto: Bassett Alarms