MPUMALANGA. – ‘n 10-jarige seun is Saterdag deur ‘n vrou (34) as vermis aangemeld. Tydens ‘n soektog is die liggaam van die seun naby ‘n rivierwal in Azania gevind. Die vrou wat die seun aanvanklik as vermis aangemeld het, sal vandag (Woensdag) op aanklag van moord in die hof verskyn.
Kol. Mavela Masondo, provinsiale polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring die voorval het in Azania-uitbreiding 22, Embalenhle, plaasgevind. Die vrou het glo vroeër die dag die kind saamgeneem onder voorwendsel dat hulle in ‘n oop veld gaan bid, maar sy het later alleen teruggekeer en die kind as vermis aangemeld.
’n Soektog deur die polisie, gemeenskapslede en ’n privaat veiligheidsmaatskappy het gelei tot die ontdekking van die seun se liggaam. Misdaadtoneel- en forensiese spanne het die gebied vir leidrade deursoek. Ná voorlopige ondersoeke is die vrou in hegtenis geneem en sy bly in aanhouding. Sy sal na verwagting vandag (Woensdag) in die Evander-landdroshof voorkom.
Die polisie het die voorval sterk veroordeel en beklemtoon dat misdade teen kinders en vroue ’n prioriteit bly. Gemeenskapslede word versoek om kalm te bly en die regsproses sy gang te laat gaan, terwyl ouers en versorgers aangespoor word om kinders se veiligheid en toesig te verseker.





