VRYSTAAT. – Die liggaam van ’n vrou (27) wat sedert Januarie as vermis aangemeld was, is Maandag in ’n vlak graf op ’n plaas in die Kloofeind-omgewing buite Bloemfontein ontdek.
Lt.kol. Thabo Covane, polisiewoordvoerder, sê misdaadintelligensie en deeglike ondersoekwerk het daartoe gelei dat die 34-jarige verdagte die polisie na die graf op ’n plaas langs die N8 tussen Bloemfontein en Petrusburg geneem het. Die verdagte is in hegtenis geneem. Forensiese dekundiges het reeds van vroegoggend op die toneel gewerk, waar die ontbinde oorskot opgegrawe is. Die oorledene was reeds sedert 17 Januarie vermis. Die verdagte, ’n plaaswerker, het glo ’n vermiste persoon op 30 Januarie by die Parkweg-polisiestasie aangemeld, waartydens ‘n vermistepersoon-lêer geopen is. Hy het na bewering ’n vals verklaring afgelê en beweer dat die oorledene die plaas verlaat het om familie in Bloemspruit te besoek.
’n Saak van moord en regsverydeling is geopen. Die verdagte sal Woensdag op die aanklagte in die Bloemfontein-landdroshof verskyn.







