LIMPOPO. – Israel Shambira, ’n senior versorger van HERD (Hoedspruit Elephant Rehabilitation and Development) is Saterdag noodlottig beseer toe Limpopo, die olifant, hom aangeval en deurboor het.
Volgens die verklaring deur HERD was die olifante in die bos waar Limpopo kort ná 15:00 ’n boom omgestoot het. Stavros, Godknows en Joshua, nog drie versorgers, het personeel gaan haal om die pad skoon te maak. Shambira het naby onder ’n boom gesit toe Limpopo hom onverwags aangeval het. Sy kollegas kon niks doen om hom te red nie.
HERD het bevestig dat Limpopo se gedrag onverwags en onuitgelok was. Limpopo is die eerste kalf van die olifantkoei Tokwe en die enigste in die trop wat nie ’n traumatiese verlede gehad het nie. HERD is bekend vir ‘n huis en veilige hawe vir olifante met ‘n traumatiese verlede wat ‘n tuiste nodig het. Hier kry olifant-wesies ‘n tweede kans.
Shambira was sedert Maart 2002 ’n versorger wat saam met die olifante vanaf Zimbabwe gekom het. Hy was bekend vir sy daaglikse gebede in die groentetuin en sy toewyding aan sy werk.
Tigere Matipedza, olifantbestuurder, het gesê: “Ons weet nie wat deur Limpopo se gedagtes gegaan het en hoekom sy dit gedoen het nie. Net vanoggend was alles in die bos kalm, met geen tekens van onrus onder die olifante nie.”
HERD het bevestig dat Brett Mitchell, raadgewer van die Elephant Reintegration Trust, na die reservaat ingeroep is om leiding te gee. Hy sal die komende dae daar bly terwyl die situasie geëvalueer word.
Meegevoel is aan Shambira se gesin, sy vrou en agt kinders oorgedra en daar word versoek dat die familie en personeel privaatheid gegun word.