Nadia Koekemoer (29) van Kimberley het ongeveer 22:00 op 1 Desember 2018 tydens die onthaal van ’n troue by 8myl gedans toe haar knie weens ’n skopboksbesering meegegee het. Die voorval is op video opgeneem.
“Nadat ek geval en van die pyn begin skree het, het my tannie, Heidi Kriel, ’n nagbestuurder by Gariep-hospitaal, en Peet Struwig van PC Struwig, na my gehardloop om bystand te lewer. Hulle het my been reguit gemaak en my knie teruggedruk terwyl almal my rustig probeer maak het,” verduidelik Nadia.
“Koos van 8myl het ’n draagbaar en noodhulpkissie nader gebringwaarmee Heidie en Peet my knie kon stabiliseer. Tjaart de la Rey, my verloofde, het Emer-G-Med gebel en hulle was binne minute op die toneel om te help en het my na Lenmed geneem. Walter en Christopher is albei fantastiese paramedikusse. By Lenmed het hulle ’n kniestut aangesit en plate geneem. Die dokters was verbaas dat daar nie enige ander skade was nie. My verloofde het my bygestaan en versorg tot ek weer behoorlik op die been was. ’n Beter man kan ’n mens nie voor vra nie. My ma en sussie het my ook heeltyd bygestaan. Die pasgetroudes het op die aand van hulle wittebrood vir my by die hospitaal kom besoek om seker te maak dat ek okay is. Hulle het ook vir my blomme gebring.”
“Ek het jare gelede dieselfde besering tydens kickboxing opgedoen. Ek was gelukkig om my pa en hero, wyle Tom Koekemoer, daar te hê om my knie terug te druk. In tien jaar het my knie nog nie weer probleme veroorsaak nie, tot die aand met die troue. Die oefening en werk wat ek gedoen het, wat swaargewig optel insluit, kon tot die voorval bygedra het, maar ek glo dit was eenvoudig ’n fratsongeluk dat dit vir ’n tweede keer gebeur het.”