Brekende Nuus
Nuus

4 vas ná ‘dwelmlaboratorium’ naby Sun City ontdek is

Foto's: SAPD

NOORDWES. – Vier verdagtes is in hegtenis geneem nadat die polisie Vrydag ’n vermoedelik onwettige dwelmlaboratorium by Thabeng-afdeling in Ramokokastad, Mogwase, naby Sun City, ontdek het. ’n Vyfde verdagte het glo daarin geslaag om arrestasie vry te spring.

Konst. Thuto Bobelo, polisiewoordvoerder, sê die polisie het opgetree nadat inligting oor beweerde dwelmvervaardiging op die perseel ontvang is. Tydens die deursoeking is onder meer 20 sakke, elk sowat 40 kg, met vermoedelik dwelmverwante materiaal, asook verskeie chemikalieë, gasbottels, kragopwekkers, groot kookpotte en droogareas gevind. Voorlopige waarnemings dui daarop dat die perseel moontlik vir die vervaardiging van Mandrax en kristalmetamfetamien gebruik is. Die stowwe moet nog ontleed word.

Die vier verdagtes, twee vroue van 71 en 24 jaar en twee mans van 19 en 52 jaar, sal na verwagting Maandag op aanklagte wat met die vervaardiging en handel in onwettige dwelms verband hou, in die Mogwase-landdroshof verskyn.