LIMPOPO. – Die polisie is op soek na verdagtes ná ’n plaaseienaar en ‘n plaaswerker Donderdag tydens ’n gewapende aanval op ’n plaas in die Morebeng-polisiegebied aangehou en gemartel is. Vier verdagtes het met vuurwapens op die plaas toegeslaan en met verskeie vuurwapens en ander waardevolle items gevlug.
Kol. Malesela Ledwaba, polisiewoordvoerder, sê die verdagtes was in polisieuniforms met glimbaadjies geklee en was vermom. Hulle het die plaaswerker omstreeks 13:00 genader en na sy werkgewer uitgevra. Die werknemer het agterdogtig geraak en probeer vlug, maar is met ’n vuurwapen gedreig en vasgebind.
Die verdagtes het sowat drie uur gewag totdat die plaaseienaar saam met twee werknemers opgedaag het. Hulle is met vuurwapens gekonfronteer terwyl toegang tot ’n kluis is geëis is. Die eienaar is met ‘n pik en ‘n sambok aangerand nadat hy aanvanklik gesê het daar is nie ’n kluis nie. Sy vingers is met ‘n tang geknip in ’n poging om hom te dwing om die ligging van die kluissleutel bekend te maak. Die verdagtes het ook probeer om die kluis oop te breek. Hulle het uiteindelik toegang tot die kluis verkry en sowat vyf gewere, ’n pistool, ammunisie en ’n onbekende bedrag kontant gesteel. ’n Bankkaart en vier selfone is ook gebuit.
Die slagoffers is vasgebind voordat die verdagtes die sleutels van ’n voertuig geëis het. Een skoot is tydens die voorval afgevuur. Die verdagtes het met ’n wit Toyota Hilux-dubbelkajuit, registrasienommer BHY 893 L, van die toneel gevlug. Die 1999-model is tydens die rooftog as gesteel aangemeld.
Niemand is nog in hegtenis geneem nie en die verdagtes is steeds onbekend. Enigiemand met inligting wat die polisie kan help om die verdagtes op te spoor of die gesteelde voertuig en vuurwapens terug te vind, kan speur.sers. Moraka Machaka by 072 276 5728 bel. Die ondersoek duur voort.





