Privaat ondersoeker Mike Bolhuis sê die arrestasie van Peet en Mel Viljoen in Florida hierdie week bevestig waaroor ondersoekers reeds maande lank waarsku.
Die egpaar is op 10 Maart 2026 in Boca Raton, Florida, in hegtenis geneem nadat hulle verlede jaar Suid-Afrika verlaat het te midde van verskeie regsgedinge en strafregtelike klagtes.
Bolhuis, van Specialised Security Services (SSS), sê sy span ondersoek die Viljoens reeds sedert Mei 2025.
“Ons het die publiek al maande gelede gewaarsku. Ons ondersoek het vroeg reeds gewys daar is ernstige probleme en dat hulle voorberei om Suid-Afrika te verlaat,” sê Bolhuis.
LEES OOK: Peet en Mel Viljoen in Florida in hegtenis geneem
In daardie stadium het die Hooggeregshof in Pretoria reeds gelas dat die Viljoens moet ophou om Tammy Taylor-franchises te verkoop, terwyl ondersoeke na die beweerde diefstal van voorraad ter waarde van meer as R70 miljoen aan die gang was.
Volgens Bolhuis het inligting wat sy span versamel het, daarop gedui dat die egpaar besig was om voor te berei om die land te verlaat.
“Ons het hul plan om te vlug lank voor die tyd blootgelê,” sê hy. Ten spyte van openbare verklarings dat hulle in Suid-Afrika sou bly, het die Viljoens in Julie 2025 die land verlaat en na die Verenigde State vertrek. Kort nadat hulle in Amerika aangekom het, het Peet Viljoen omstrede sosialemediaplasings gemaak wat groot opslae in Suid-Afrika veroorsaak het. Bolhuis glo hierdie plasings was deel van ’n poging om ’n sekere narratief te skep.
“Dit het gelyk asof daar ’n storie van vervolging geskep word om hul teenwoordigheid in die Verenigde State te regverdig,” sê hy. In Augustus 2025 het SSS bevestig dat die egpaar in Palm Beach County, Florida, woon en ’n waarskuwing aan die Amerikaanse publiek uitgereik om versigtig te wees vir enige saketransaksies met hulle.
“Ons verantwoordelikheid is om die publiek te beskerm. Wanneer mense die land verlaat te midde van ernstige bewerings, het die publiek die reg om gewaarsku te word,” sê Bolhuis. Bolhuis was ook skerp krities oor wat hy beskryf as die Viljoens se optrede. “As jy in survival mode is, steel jy brood en botter. Jy steel nie die goed wat hier genoem word nie,” sê hy. “Dit is vir hulle moeilik om van hulle troontjie af te klim en op te hou om ander mense se geld te spandeer. Tot onlangs nog het hulle mense se geld gevat en mense ‘geknock’. Hulle probeer steeds mense knock.” Oor die motors wat die Viljoens glo ry, sê Bolhuis mense moenie alles glo wat hulle op sosiale media sien nie. “Dit kan gehuur wees, dit kan AI wees. Wie weet.”
Hy vergelyk die situasie met ander bekende finansiële skandale. “Dit is soos in die Louis Liebenberg-saak. Daar is altyd mense wat tot op die einde toe sal glo hulle is onskuldig en wat hulle bly ondersteun,” sê Bolhuis. Hy waarsku ook die publiek om nie geld of ondersteuning aan die egpaar te stuur nie.
“Moenie geld stuur nie. Hulle is knockers en scammers.”
Volgens Bolhuis soek mense wat werklik in moeilike omstandighede is gewoonlik hulp op ’n eerlike manier. “As jy jouself in totale armoede bevind en niks meer het om te eet nie, is daar shelters en instansies wat help. Jy kan eerlik vorentoe kom en reëlings tref om pa te staan vir klagtes,” sê hy. “Maar dit is moeilik om van ’n troontjie af te klim en te erken jy het verkeerd gedoen.”
Bolhuis het ook die rassistiese aanmerkings wat vroeër op sosiale media gemaak is, veroordeel. “Die rassistiese aanmerkings gaan baie moeilik wees om te vergewe en betrek baie mense, sover soos die EFF,” sê hy.
“Hulle rassisme was onvanpas, onprofessioneel en ongevraagd. Dit wys die haat, nyd en bitterheid wat onderliggend is.”
Volgens Bolhuis wys die arrestasie dat ondersoeke nie stop wanneer iemand die land verlaat nie. “Mense dink hulle kan hardloop. Maar ondersoeke stop nie wanneer iemand die land verlaat nie. Ons is nog deurlopend met die Amerikaanse owerhede in kontak.” sê hy.
“Uiteindelik haal die waarheid jou in. Al sê hulle: ‘Ons is hier om Suid-Afrikaners te help,’ of al probeer hulle goeie stories vertel oor hoekom hulle daar is , die Amerikaners het lankal deur die storie gekyk. Jy kan nie daar sit en niks doen nie. Jy gaan nie werk nie, jy gaan nie jou hande vuilmaak nie. Dan maak jy stories op om jouself te verontskuldig oor hoekom jy nie kan werk nie.”
Amerikaanse owerhede sal na verwagting in die komende dae meer besonderhede oor die saak bekend maak.
Lees die tydlyn van Bolhuis se ondersoek van die Viljoens hier. Hy sê die Viljoens, nadat hulle hulle straf in Amerika uitgedien het, is steeds welkom om pa te staan vir hulle optrede en dade. “Enigiemand wat nog klagtes het, moet ons kontak. Hoe meer klagtes ons het, hoe beter. Daar is baie mense wat bang is vir hulle. Dit verbaas my baie. Die tyd vir bang wees vir daardie mense is verby.”





