Lede van Virgin Active Wembley Square in Kaapstad het hul kommer uitgespreek oor veranderings aan lidmaatskapfooie en voorwaardes nadat die klub as ’n Collection Urban-klub herontwikkel is.
Verskeie lede het Nuusflits genader nadat nuwe lidmaatskapopsies en tariewe aangekondig is. Van die klagtes kom van mense wat sê hulle is reeds jare lank lede van die gimnasium, terwyl ander sê hulle het hulself of hul kinders slegs enkele maande voor die verandering by Wembley Square aangesluit en is nie tóé ingelig is dat die klub se klassifikasie en prysstruktuur sou verander nie.
Een lid het gesê sy is reeds vir dekades by Virgin Active en sy is bekommerd oor wat die verandering vir langtermynlede beteken.
Nuwe lidmaatskapopsies by Virgin Active Wembley Square
Volgens kommunikasie wat aan lede gestuur is, word Wembley Square omskep in Virgin Active se Collection Urban-konsep en is nuwe lidmaatskapopsies aan bestaande lede gebied.
Lede het onder meer vrae gevra oor waarom hulle weer vir ’n bepaalde tydperk moet verbind om sekere tariewe te bekom, wat met bestaande lidmaatskappe gebeur en watter opsies beskikbaar is vir mense wat nie die nuwe Wembley-aanbod wil aanvaar nie.
Ander lede het hul frustrasie uitgespreek oor die tydperk waarin dele van die klub weens opknappingswerk nie beskikbaar was nie.
Sommige het ook gevra hoe bywoningsvereistes en lidmaatskapvoordele gedurende die tydperk van beperkte toegang of sluiting hanteer is.
’n Verdere bron van kommer is dat mense wat kort voor die verandering nuwe lidmaatskappe aangegaan het, sê hulle is nie vooraf daarvan ingelig dat Wembley Square binnekort ’n ander klubformaat en prysstruktuur sou kry nie.
Virgin Active gevra om kommentaar
Nuusflits het Virgin Active gevra om onder meer te verduidelik wanneer die besluit geneem is om Wembley Square na Collection Urban om te skakel, hoe bestaande en langtermynlede geraak word, watter reëlings gedurende die opknapping en sluiting gegeld het en watter opsies beskikbaar is vir lede wat nie die nuwe lidmaatskapstruktuur wil aanvaar nie.
Virgin Active is ook gevra om kommentaar te lewer oor lede wat kort voor die verandering by Wembley aangesluit het en sê hulle is nie van die beplande verandering ingelig nie.
Die maatskappy is ’n sperdatum van 10:00 op Maandag 21 September gegee om op Nuusflits se navrae te reageer.
Teen die tyd van publikasie het Virgin Active nog nie gereageer nie.
Nuusflits sal die berig bywerk indien ’n antwoord van Virgin Active ontvang word.