Brekende Nuus
Nuus

Kind tydens botsing vorentoe in motor geslinger – gordel vas sê nooddienste

Foto: KwaZulu Private Ambulance

KWAZULU-NATAL. – ’n 5-jarige kind is beseer toe ’n bakkie en ’n sedan vanoggend op die N3 by New Englandweg in ’n botsing betrokke was. Volgens die pa van die kind was hy op die agtersitplek, maar is hy weens die impak van die botsing vorentoe in die motor geslinger.

Craig Botha van KwaZulu Private Ambulance sê dié diens is na die toneel ontbied, waar paramedici die kind en sy pa ondersoek het. Hulle het aanvanklik ligte tot matige beserings opgedoen en wou nie na ‘n hospitaal toe gaan nie. Die ambulansdiens is later weer ontbied nadat die kind se toestand begin versleg het. Albei is toe behandel en na ‘n hospitaal vervoer.

Botha versoek ouers om seker te maak dat kinders altyd in die regte veiligheidsstoeltjies en met toepaslike veiligheidsgordels vasgemaak word. Hy waarsku dat kinders se veiligheid tydens elke rit aandag moet geniet.