Kookwater rugby verwag
Saterdag 15 Augustus is die groot dag vir die Virseker Noordvaal Semi-finale in die noordelike deel van die land. Skole vanuit Gauteng, Mpumalanga en Limpopo ding mee om plekke in die finale van die onderskeie afdelings. Dit beloof om kookwater rugby op te lewer met die doel om die onderskeie trofeë volgende naweek omhoog te hou.
Alle oë op Bekerafdeling
Alle oë is op die Bekerafdeling gerig wat die topafdeling van die kompetisie is. In Pretoria sal die Hoërskool Garsfontein gasheer speel vir die Hoërskool Waterkloof. Garsfontein is onoorwonne en het bo-aan die punteleer geëindig. Waterkloof sal moed skep uit hul groepswedstryd wat baie naby was.


In die ander beker-halfeindstryd kom Noordheuwel teen sy gasheer, die Hoërskool Monument, te staan. Monument het slegs hul wedstryd teen Garsfontein verloor en sal alles op tuisbodem uithaal om volgende week in die finaal te verskyn.
Groot stryde in die Plaatafdeling
Daar word ook twee tawwe wedstryde in die Plaatafdeling (tweede hoogste been in die liga) verwag. Hoërskool Zwartkop is onoorwonne en speel tuis teen die Hoërskool Oos-Moot wat by die agterdeur ingeglip het om die halfeindstryd te haal. Die Blou Golf (soos die Oosie-eerstespan bekend staan), sal poog om te vergoed vir hul vernederende nederlaag in die groepswedstryd.

Hoërskool Kemptonpark reis na Nelspruit. Hoërskool Nelspruit het soos Monument, slegs teen die topspan, Hoërskool Zwartkop, verloor. Alhoewel Nelspuit selfversekerd behoort te wees, is enigiets moontlik in ‘n uitspeelstryd.
Ander wedstryde
Die Virseker Noordvaal-kompetisie het ook verskeie ander halfeindstryde in die Skild, Bowl-Oos en Bowl-Wes afdelings. In die Skildafdeling speel die Hoërskool Pietersburg en Hoërskool Piet Retief teen mekaar. Hoërskool Centurion (Bowl-Wes) en Hoërskool Brandwag (Bowl-Oos) speel beide gashere as topspanne vir hul onderskeie wedstryde.
Finale wink
Rugby in die noordelike deel van die land gaan hierdie naweek die sportvelde aan die brand speel. Wedstryde kan gevolg word op die SuperSport Schools-toepassing. Spanne sal alles in die stryd werp om die gesogte trofeë van die onderskeie afdelings omhoog te hou. Die finale van die Virseker Noordvaalbeker sal volgende Saterdag, 22 Augustus plaasvind.
Vir meer fotos besoek: Lulu’s Sport Pics


