Brekende Nuus
Nuus

Zwarrie Vikings tem Oosie Blou Golf in Noordvaal-kragmeting

Saterdag 6 Junie het Die Hoërskool Zwartkop gasheer gespeel vir hul Virseker Noordvaalbeker Plaatafdeling-wedstryd teen die Hoërskool Oos-Moot. Die Oosie Blou Golf (soos hul eerste span beskend staan) het die dag op die sesde posisie op die punteleer begin ná vyf wedstryde. Die Zwarrie Vikings daarenteen was derde in daardie stadium nadat hulle al drie hul wedstryde gewen het.

Belangrikheid van die kragmeting

Hierdie kragmeting was ‘n belangrike een vir beide spanne. Oos-Moot moes veg om hul wen/verloor-patroon te probeer breek. Die Blou Golf het laasweek ‘n groot pakslae gekry by die Montana Wit Bulle (29 – 46) nadat hulle die vorige week teen Transvalia gewen het (28 – 21). Die Vikings moes die wedstryd beklink om hul posisie op die punteleer te verbeter. Hulle sal graag hulle posisie bo-aan die 2025-punteleer suksesvol wil verdedig.

Kompeterende eerste helfte

In teenstelling met hul vorige wedstryd teen Montana, het die Blou Golf opgedaag in die eerste helfte. Drieë deur Bradley en Brain Jacobs was die antwoord op die drieë deur Waylin Papier en Regan Blignaut van Zwartkop. ‘n Tweede geslaagde strafskop deur Michael Bhuda het die Oosies 18 – 15 halftyd binnegelei.

Oos-Moot se Senawo Stengana keer verbeter om Luan Wepener te keer. Foto krediet: Louise Esterhuizen (Lulu's Sport Pics)
Oos-Moot se Senawo Stengana probeer om Luan Wepener te keer. Foto: Louise Esterhuizen (Lulu’s Sport Pics)

Vikings tem die Blou Golf

In die tweede helfte van die wedstryd tem die Vikings die Blou Golf behoorlik. Skaars ‘n halfminuut binne die tweede helfte druk die Zwarries hul eerste opvolgdrie. Dit was die eerste van vyf onbeantwoorde drieë in die tweede helfte.

Swak dissipline kos die Moot

Oos-Moot se swak dissipline en ‘n geelkaart in die 58ste minuut het hulle duur te staan gekom. Hul het sekerlik die goeie verdediging van Le Roux Smit in die tweede helfte gemis. Jeandre Botha se uithaler aanvallende- en verdedigende spel was net nie genoeg om die Blou Golf te red nie.

Jeandre Botha veg om die bal af te vat by Zwartkop se Herman Potgieter. Foto krediet: Louise Esterhuizen (Lulu's Sport Pics)
Jeandre Botha veg om die bal af te vat by Zwartkop se Herman Potgieter. Foto: Louise Esterhuizen (Lulu’s Sport Pics)

Uitstaande spel deur die Vikings

Die Vikings het uitstekend as ‘n span saam gespeel met drieë uit die voorry en die agterlyn. Regan Blignaut (haker) en Stiaan Botha (buitesenter) het beide twee drieë elk in die wedstryd aangeteken. Die skopskoen van Tilon Baron het ‘n totaal van 12 punte tot die Vikings se 42 – 18 oorwinning bygedra.

Garreth Warie duik vir die lyn. Foto krediet: Louise Eserhuizen (Lulu's Sport Pics)
Garreth Warie duik vir die lyn. Foto: Louise Eserhuizen (Lulu’s Sport Pics)

Implikasies vir die res van die liga

Met ses van hul agt ligawedstryde gespeel, sal die Oosies diep moet delf vir hul laaste twee wedstryde. Daar lê ‘n baie strawwe wedstryd voor in Middelburg wanneer hulle HTS Middelburg op 25 Julie aandurf. Hul laaste wedstryd sal op tuisbodem teen Hoërskool Klerksdorp op 8 Augustus wees.

Vir die Zwarries lyk dinge aansienlik anders. Hulle slyp reeds tande vir die semi-finale. Tans tweede op die punteleer en met nog 4 wedstryde wat voorlê, is hulle goed op dreef om bo-aan die punteleer te eindig.