NOORDWES. – Quintin Snyman (39) was Maandagoggend op die Rustenburgpad in ‘n ongeluk betrokke. Hy was onderweg werk toe, vermoedelik vir die Impalamyn, waar hy in die veiligheidsafdeling met CCTV-kameras gewerk het, maar hy weet tans nie wie sy werkgewer is nie en kan ook nie kontak maak nie.
Helena Snyman, Quintin se ma, sê aan Nuusflits hy is tans in die ortopediese afdeling van ‘n hospitaal waar hy as gevolg van trauma van die ongeluk van geheueverlies en harsingskudding herstel en in traksie lê. Sy regterbeen is boonop op vier plekke gebreek en sy bobeen vergruis. Helena sê daar moet met ‘n operasie staalplate en skroewe in sy been geplaas word. Hy kan niks onthou nie en sy selfoon en geheuekaart van sy paneelbordkamera is op die ongelukstoneel deur ‘n man wat voorgegee het om te help, vasgelê, waarna die man weggery het sonder om hom te help.
‘n Vroulike weldoener het by die ongelukstoneel stilgehou en by Quintin gewag totdat hulp opgedaag het. Sy het sy beursie onder die voertuig gekry en in sy broeksak sit. Sy het ook sy bril en ander items in ‘n sak gesit. Die vrou, wat nooddienste en ‘n insleepdiens gebel het, word deur Quintin se familie en vriende bedank. Die paneelbordkamera is ook uit die voertuig verwyder.
Enige ooggetuies van die ongeluk en Quintin se huidige werkgewer word gevra om Helena by 079 388 0555 te bel. Quintin se selfoon, wat voete gekry het, is afgeskakel.