BELFAST. – ’n Vrou en twee minderjariges, vermoedelik haar kinders, is gister op die N4-tolpad tussen Machadodorp en Belfast dood toe hulle omstreeks 16:00 deur ’n sedanvoertuig getref is. Al drie het op die toneel aan hulle beserings beswyk.
Die Mpumalanga-LUR vir gemeenskapsveiligheid, sekuriteit en skakeling, mnr. Jackie Macie, het sy innige meegevoel met die familie betuig. Hy het ’n beroep op motoriste gedoen om altyd op die uitkyk vir voetgangers te wees. Die LUR het voorts gesê dat baie voetgangers ook tydens vorige vakansietye hul lewens verloor het.
“Motoriste moet altyd op die uitkyk wees vir voetgangers,” het die LUR gesê. Hy het verder ook voetgangers gemaan om versigtig te wees en slegs op aangewese plekke oor te steek, en net wanneer dit veilig is om dit te doen.
LUR Macie het ook die inhegtenisneming van ’n 35-jarige man verwelkom wat teen 200 kilometer per uur in ’n 120 km/h-sone gery het op die N3-tolpad tussen Villiers en Heidelberg.
“Ons verwelkom die pogings van ons wetstoepassingsbeamptes om oortredende bestuurders tot verantwoording te roep. Die straf van roekelose bestuurdersgedrag sal ’n groot rol speel in die voorkoming van dodelike padongelukke,” het die LUR gesê.
Bron: Mpumalanga-departement van gemeenskapsveiligheid, sekuriteit en skakeling





