KAAPSTAD. – Die voormalige Claremont-krieketklubkolwer, Tristan Perez, is op ’n aanklag van moord in hegtenis geneem.
Perez is op 23 Maart 2026 in hegtenis geneem ná die dood van sy vriendin Elana Brooke. Uiteenlopende berigte dui op vermoedens van ’n huishoudelike dispuut en ook aanvanklike bewerings dat ’n vrou “by die trappe van haar woonstel afgeval het”.
Perez, ’n bekende figuur in Kaapstad se klubkrieketkringe, het volgens beriggewing beweer dat Brooke deur selfdood oorlede is.
https://youtu.be/VDphbapJ6ZU?si=u5nsPzBa4Knvvo7-
Die polisie het met hul aankoms op die toneel onraad vermoed. Luidens berigte het Perez die polisie toestemming gegee om sy selfoon te ondersoek. ’n Opname van ‘n hewige argument is gevind, asook vermoedens dat dit geëindig het in Brooke se tragiese dood.
Polisiebeamptes het bevestig dat Perez sonder voorval op die toneel in hegtenis geneem is.
“Ten tyde van die voorval was Brooke saam met haar kêrel. Ná verdere ondersoek van die misdaadtoneel het die polisie onraad vermoed, wat tot Perez se inhegtenisneming gelei het,” het die Suid-Afrikaanse Polisiediens se woordvoerder, FC van Wyk, gesê.
Perez word sedert sy inhegtenisnemimg in Pollsmoor-gevangenis aangehou. Hy het op 1 April in die Wynberg-landdroshof verskyn. Die saak is tot 9 April uitgestel vir ’n formele borgtogaansoek.
Perez se ma, Rhoda, het gesê hulle is geskok oor die voorval en gesê dat hulle die oorledene se familie in hulle gebede hou.
“Maar dit was ook vir ons ongelooflik moeilik. Ons moes selfs vals boodskappe hanteer wat beweer dat ons seun selfmoord in die tronk gepleeg het,” het sy verder gesê.
Brooke se familie het in ’n verklaring almal bedank wat uitgereik het met boodskappe van ondersteuning, meegevoel en gedeelde herinneringe.
Bron: Club Cricket SA





