MPUMALANGA. – Die polisie in dié provinsie het Maandagaand ‘n vragmotor met meer as 670 kg dagga op die N17 by Oshoek tydens ‘n roetine-voertuigkontrole onderskep.
Kol. Mavela Masondo, provinsiale polisiewoordvoerder, sê die polisie het ’n Volvo-vragmotor met ’n sleepwa probeer stop, maar die bestuurder het nie gehoor gegee nie en ’n jaagtog het gevolg. Toe hy besef die polisie is op sy spoor, het hy uit die vragmotor gespring en die bosse ingevlug. Tydens die deursoeking van die vragmotor het beamptes meer as 45 rolle dagga ontdek met ’n geskatte gewig van meer as 670 kg.
Die vragmotor is gekonfiskeer omdat dit in die pleeg van ’n misdaad gebruik is. Die soektog na die verdagte duur voort.





