NOORDWES en GAUTENG. – Ses verdagtes, tussen 28 en 48 jaar oud, is tydens ’n gesamentlike oorgrens-misdaadintelligensie-operasie in hegtenis geneem in verband met die kaping van ’n vragmotor wat vleis vervoer het, asook ontvoering. Die geskatte waarde van die vleis word op meer as R500 000 geraam.
Volgens polisiewoordvoerders kol. Adéle Myburgh en kol. Dimakatso Nevhuhulwi is inligting oor ’n beplande kaping van ’n vragmotor wat vleis vanaf Potchefstroom vervoer, ontvang. ’n Gesamentlike span bestaande uit verskeie polisie-eenhede en privaatveiligheidsmaatskappye is onmiddellik ontplooi. Die operasie het Donderdagoggend op die R599 tussen Carletonville en Randfontein plaasgevind, waar die span kort ná die kaping, wat net voor 08:00 gebeur het, toegeslaan het. Ses verdagtes is op die toneel vasgetrek, en die vragmotor met sy vleisvrag is suksesvol teruggevind. Die polisie het ook op drie ander voertuie beslag gelê wat glo in die misdaad gebruik is.
Die verdagtes word van kaping en ontvoering aangekla en sal Maandag in die Carletonville-landdroshof verskyn.





