LIMPOPO. – ‘n Leerling (20) is in hegtenis geneem nadat sy glo ’n manlike medeleerling (19) op 26 Oktober met kookwater gebrand het op ‘n hoërskoolkamp ter voorbereiding van hulle eindeksamen.
Volgens polisiewoordvoerder kol. Malesela Ledwaba het voorlopige ondersoeke getoon dat die jongman in een van die klaskamers geslaap het toe die verdagte hom nader en hom daarvan beskuldig het dat hy haar onvanpas aangeraak het. Die jongman het die bewerings ontken, waarna die verdagte die lokaal verlaat het, maar later teruggekeer het en hom met kookwater gegooi het. Hy het ernstige brandwonde opgedoen en is na ’n hospitaal geneem, waar hy steeds behandel word.
Die vrou is Vrydag in hegtenis geneem en van aanranding met die opset om ernstige liggaamlike leed te veroorsaak, aangekla. Sy sal Maandag in die Lebowakgomo-landdroshof voorkom.
Ledwaba het bevestig dat die polisie se ondersoek voortduur.





