VSA. – Die polisie het bevestig ’n 75-jarige vrou van Ohio is op Kersdag oorlede na sy wreed deur haar buurman se varke aangeval en gedeeltelik geëet is.
Rebecca Westergaard se familie het ’n ondersoek aangevra nadat sy nie soos beplan by haar niggie se huis opgedaag het nie en niemand haar kon bereik nie. Toe polisiebeamptes by haar huis in Pataskala aankom, het hulle haar liggaam naby haar woning gevind.
Volgens Pataskala se polisiehoof, Bruce Brooks, behoort die twee varke aan Westergaard se buurman, wie se identiteit nog nie bekend gemaak is nie. Dit is steeds onduidelik of kriminele klagte ingedien sal word, aangesien die diere as plaasvee eerder as troeteldiere beskou word.
“Sou dit honde gewees het, soos ’n pitbull of rottweiler, sou ons vinniger kon bepaal of die klagte gepas is,” het Brooks verduidelik. “Maar plaasdiere is iets heeltemal anders en ons het nog nooit so iets hier hanteer nie.”