VRYSTAAT. – Die Navalsig-polisie vra die publiek se hulp om ‘n man op te spoor wat glo ‘n vrou ná ‘n woordewisseling by ‘n eetplek langs die N8 naby Bloemfontein in die gesig geklap het.
Volgens polisiewoordvoerder, sers. Sinah Mpakane, het die voorval op 3 Maart, kort voor 13:00 by ‘n voedselafdeling van ‘n bekende supermark in Estoire plaasgevind. Drie kollegas het in ‘n ry gestaan om vir hul kos te betaal toe ‘n onbekende man agter hulle aangesluit het. Die klaagster beweer die kassier wou die man eerste bedien, hoewel hy agter hulle in die ry was. Dit het tot ‘n woordewisseling gelei, waarna die man haar na bewering in die gesig geklap het. Omstanders het ingegryp en die beweerde aanranding beëindig. Die man het glo daarna gesê hy sou buite vir die vrou wag, waarna sy ‘n foto van hom geneem het. Toe sy die eetplek verlaat, was hy egter nie meer daar nie.
‘n Saak van gewone aanranding word ondersoek en die polisie wil die man, wat ‘n persoon van belang is, opspoor om met die ondersoek te help. Enigiemand wat hom herken of weet waar hy hom bevind, kan konst. Kabelo Isaia Modalaota, by 073 393 2976 of 051 406 1200 bel.




