Ek is ’n gerehabiliteerde dwelmslaaf. My paadjie met dwelms het begin toe ek 19 jaar oud was en ek was vyf jaar lank verslaaf aan heroïen en kokaïen.
Ek is in ’n rehabilitasiesentrum opgeneem, maar ek het ’n week ná my ontslag weer begin dwelms gebruik. Ek het my studies gestaak, vriende verloor en op straat geëindig. Deurentyd het ek na my volgende “fix” gesoek – ek het by ’n verkeerslig gebedel en skelm by ’n karwasplek geslaap. Maar een oggend, juis by ’n verkeerslig, het ek opnuut besef ek wil nie so leef nie en ek het gebid. Ek is toe na ’n vriend se pa se huis in Pongola en het vyf weke daar gebly in ’n poging om “skoon” te kom.
Daarna is ek terug Pretoria toe, ek het werk gekry en het twee kinders gehad. Later is ek met Eben Zandberg getroud.
Vir tien jaar lank was ek dwelmvry en was ek daarvan oortuig dat my verslawing iets van die verlede is. Ek het nie meer na dwelms gesmag nie; ek het nie eens daaraan gedink nie.
LEES OOK: 11 jaar verslaaf, 18 jaar skoon: ‘My storie is een van genade, genesing en tweede kanse’
Jou menswaardigheid word van jou weggeneem
In 2021 het ek vyf familielede verloor: In Juniemaand is my sussie, haar man en hul kind dood nadat ’n lorrie in hulle vasgery het. Ook in Junie het my man aan Covid-19 gesterf, en in Desember is my oupa oorlede.
In Augustus 2022 het my ouma gesterf. My lewe het inmekaargetuimel. My man, my steunpilaar, was weg. Wie sou my help om al dié verliese te bowe te kom?
Ek was baie kwaad vir die Here. Ek kon nie verstaan watter soort god soveel mense in so ’n kort tydjie van hul geliefdes wegneem nie. Voor ek my kom kry, het ek weer begin dwelms gebruik. Dit het ’n jaar geduur en ek is vier keer in ’n rehabilitasiesentrum opgeneem. Uiteindelik is ek gearresteer en moes tronk toe gaan. Die eerste aand in die tronk was baie erg. Jou menswaardigheid word van jou af weggeneem.
Nietemin het die vroue in my sel soggens en saans gebid. Die tweede oggend, op pad hof toe, het ek vroue hoor sing toe ek by die trappe afkom. Die lied was in ’n taal wat ek nie ken nie; ek kon dus nie die woorde verstaan nie. Maar ek het hoendervleis oor my hele lyf gekry en ’n wonderbaarlike kalmte ervaar.
LEES DIE RES VAN HIERDIE ARTIKEL OP LIG HIER
Nuusflits publiseer advertensies en geborgde inhoud vir bemarkingsdoeleindes. Die sienings en aansprake wat in advertensies geuiter word, weerspieël nie die standpunte van Nuusflits, sy redaksie, of enige van sy affiliasies nie.





