LIMPOPO. – ‘n 25-jarige vrou is in hegtenis geneem nadat sy na bewering die stemproses by die Mugoboya-stemlokaal in die Maake-polisiegebied in die Mopani-distrik ontwrig het. Die vrou het na bewering foto’s en ‘n video probeer neem terwyl sy haar stem uitgebring het.
Die voorsittende beampte het haar daarop gewys dat dit volgens die verkiesingsreëls verbode is. Sy het na bewering aggressief geraak, die beampte in kru taal beledig en ‘n steurnis veroorsaak wat die stemproses ontwrig het. Polisiewoordvoerder kol. Malesela Ledwaba het bevestig dat die polisie ontbied is en die vrou in hegtenis geneem is. Sy word aangekla ingevolge die Verkiesingswet 51 van 1996, wat onder meer die opsetlike belemmering of ontwrigting van die Verkiesingskommissie se werksaamhede verbied.