GAUTENG. – Die Pretoria-hooggeregshof het Antoinette Maritz (37) tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis nadat sy skuldig bevind is aan die beplande moord op Wayne Henderson, haar lewensmaat. Sy is ook vir poging tot moord, roof met verswarende omstandighede en regsverydeling gevonnis.
Tshegofatso Makhudu, NVG-woordvoerder, sê Maritz se medebeskuldigde, Johan George Pratt, is verlede jaar reeds tot 30 jaar tronkstraf gevonnis, nadat hy skuld erken en ‘n pleit-en-vonnisooreenkoms met die staat aangegaan het. Volgens die NVG het Maritz haar voormalige kêrel in November 2023 na haar woning in Suiderberg ontbied, waar sy saam met Henderson en sy ma gewoon het. Pratt het Henderson na bewering in sy slaapkamer doodgesteek, waarna die twee beskuldigdes sy liggaam na ‘n ander vertrek gesleep het. Die volgende oggend is Henderson se ma met ‘n asbak aangerand, vasgebind en beroof voordat die twee met Henderson se liggaam in haar voertuig na ‘n veld naby Standerton gery het, waar dit agtergelaat is.
Maritz het enige betrokkenheid ontken, maar die staat het getuienis, insluitend dié van Pratt en Henderson se ma, aan die hof voorgelê wat tot haar skuldigbevinding gelei het. Die hof het bevind dat Maritz geen berou getoon het nie en dat daar geen rede bestaan om van die voorgeskrewe minimum vonnis af te wyk nie. Sy is ook onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit.





