VSA. – Elisabeth Anderson-Sierra van Aloha in Oregon, VSA, het wêreldgeskiedenis gemaak nadat sy reeds aan die begin van 2025 meer as 10 000 liter borsmelk aan babas in nood geskenk het. Sy ly aan hiperlaktasiesindroom en kan ongeveer 6,7 liter borsmelk ‘n dag produseer.
Guinness World Records het haar prestasie as die grootste individuele borsmelkskenking ooit op 23 Januarie 2025 amptelik bevestig. Teen daardie tyd het sy reeds ‘n ongelooflike 10 350,73 liter (350 000 onse) borsmelk geskenk, aan premature en mediese kwesbare babas regoor die wêreld. Sy het byname soos “die melkgodin”, “supervervaardiger” en “pompkoningin” verwerf.
Anderson-Sierra ly aan hiperlaktasiesindroom, ‘n toestand wat haar liggaam ongeveer 6,7 liter (225 onse) borsmelk per dag laat produseer. Dit is sowat agt tot tien keer meer as wat ‘n gewone borsvoedende ma lewer. Haar liggaam oorproduseer die hormoon prolaktien, wat melkproduksie aandryf. Moontlike behandelingsopsies sluit in medikasie om die hormoon te bekamp, of selfs ‘n dubbele mastektomie om alle klierweefsel te verwyder.
Die sindroom klink dalk na ‘n seën, maar Anderson-Sierra is duidelik oor die werklikheid daarvan. “Ek sou nie hierdie toestand vir my ergste vyand toewens nie. Dit is nie pret nie,” het sy in ‘n video vir Guinness World Records gesê. “Dit voel die beste wanneer die melk uitgepomp is, maar dit hou net minute aan voordat my liggaam alweer begin produseer. Niemand wil so leef nie.”
In plaas daarvan om dié oormaat melk te mors, het sy dit omgeskakel in ‘n roeping en lewenslyn vir ander. Elke dag spandeer sy ure aan pomp, stoor, vries en voorbereiding sodat hospitale en melkbanke lewensbelangrike voeding aan kwesbare pasgeborenes, veral babas in neonatale intensiewesorg-eenhede kan verskaf. Sy het reeds halfpad deur haar eerste swangerskap begin melk produseer. Sy het haar vroedvrou in onse ingelig oor die hoeveelheid melk wat sy produseer. Dié het dit as milliliter verstaan het en haar dus verkeerdelik gerusgestel dat alles normaal is.
Anderson-Sierra skenk aan families wie se babas as “failure to thrive” gediagnoseer is, en sê dit is die positiewe uitkomste waarop sy fokus. “Om te sien hoe daardie etiket van kinders verwyder word in so baie verskillende stories, beteken alles vir my.”
Buiten haar rekord werk Anderson-Sierra ook as ‘n gesertifiseerde laktasieberader en direkteur van laktasiedienste by die borspomp-maatskappy BabyBuddha, waar sy moeders help om borsvoedinsguitdagings te navigeer terwyl sy bewustheid kweek oor melkdeling en seldsame laktasietoestande. Sy hoop dat haar verhaal melkdeling wêreldwyd sal normaliseer.
Druk hier om te lees wat Guinness World Records sê.
Bronne: Wikipedia, Scary Mommy, Guinness World Records, The Bump





