OOS-KAAP. – Noluvuyo Sinyikatha (23) is skuldig bevind aan die moord op Likuwe Mpokopi, ’n 6-jarige meisie, wat sy op 28 Augustus 2024 in ’n rivier by Ngcanasini, Mqanduli, verdrink het. Sinyikatha het die kind vermoor omdat sy geglo het die meisie se ma was verantwoordelik vir die dood van haar eie nege maande oue baba.
Luxolo Tyali, NVG-woordvoerder, sê die hof het gehoor die kind se liggaam is dieselfde middag deur vroue wat vuurmaakhout versamel het, in die rivier gevind. ’n Gemeenskapslid het twee dae later aan die polisie vertel dat sy Sinyikatha kort voor die moord saam met die kind na die rivier sien stap het.
Sinyikatha het ná haar inhegtenisneming erken dat sy die meisie vermoor het omdat sy geglo het haar eie baba is deur die meisie se ma doodgemaak. Die twee families het saam by die Mpokopi-opstal gewoon. Die hof het Sinyikatha se bekentenis as toelaatbaar aanvaar. Hoewel niemand die verdrinking self gesien het nie, het die hof bevind dat die staat sy saak bo redelike twyfel bewys het.
Sinyikatha sal op 18 September vir vonnisoplegging in die hof verskyn. Die staat sal ’n gepaste vonnis versoek.