Brekende Nuus
Nuus

Vrou vas ná dood van 15 mnde. oue seuntjie in Swellendam

Foto: Lee-roy Arendorff

WES-KAAP. – ’n Vrou (46) is Vrydag 20 November in hegtenis geneem op aanklagte van verkragting en moord nadat Hayden, ’n 15 maande oue seuntjie, op 27 Oktober in ’n huis in Railton, Swellendam, dood verklaar is. Sy bly in polisieaanhouding en sal na verwagting Maandag 23 November in die Swellendam-landdroshof verskyn.

AO Christopher Spies, polisiewoordvoerder, sê die polisie is op 27 Oktober omstreeks 18:30 na ’n huis in Naartjiestraat ontbied, waar beamptes die seuntjie op ’n bed in ’n slaapkamer aangetref het. Hy het nie gereageer nie en paramedici het hom op die toneel dood verklaar. 

Die polisie het aanvanklik ’n geregtelike doodsondersoek geopen, maar het die saak ná die nadoodse ondersoek na moord verander. Inligting wat daarop dui dat die seuntjie voor sy dood seksueel aangerand is, het tot die bykomende aanklag van verkragting gelei. Die polisieondersoek duur voort.

Lee-roy Arendorff het die baba in ’n plasing geïdentifiseer waarin hy sê die kleinding is na bewering oorlede terwyl hy by sy versorger was en Georgina Matjan, sy mamma, by die werk. Volgens Arendorff het die versorger glo seep gaan leen. Toe sy terugkom, het sy glo na die baba gesoek, waarna hy volgens die plasing saam met klere uit ’n kas geval het.