GAUTENG. – Je’Maine van Kradenburg van Johannesburg herstel tans goed van ernstige brandwonde wat sy op 11 April opgedoen het. Sy het by vriende se huis gestaan en gesels, toe sy teruggetree het, haar balans verloor en in ‘n vuurput geval het. In ‘n poging om die val te keer, het sy met haar linkerkant in die vuur geval.
Martin van Kradenburg sê sy vrou het ernstige brandwonde aan haar hande, gesig, skouer en voorarm opgedoen. Sy is aanvanklik in ’n privaat hospitaal behandel en gestabiliseer, maar is weens die kostes, teen die dokters se aanbevelings, ontslaan.
Die gesin het verlede jaar hulle mediese fonds gekanselleer en het hulle noodgedwonge tot skarebefondsing gewend, waarmee in bietjie meer as ‘n week reeds byna R400 000 ingesamel is. Van Kradenburg beskryf die reaksie as oorweldigend en sê dit gee hulle hoop in ’n moeilike tyd.
Met ondersteuning wat bly instroom, kon Je’Maine se brandwonde tot dusver behandel word. Spesialiste het bevestig dat sy goed herstel, maar dat veloorplantings en verdere behandeling beplan word nadat haar liggaam nog tyd gegee word om te herstel.
Die familie sê hulle fokus nou op haar herstel en bedank die publiek vir hul ondersteuning en gebede.
Bronne: Martin van Kradenburg en BackaBuddy





