GAUTENG. – Drie vroue is in hegtenis geneem ná die beweerde diefstal en onwettige verkoop van medikasie wat vir die beëindiging van swangerskappe gebruik word. Die verdagtes is EPWP-werkers by die Stretford-gemeenskapsgesondheidsentrum in Orange Farm.
Steve Mabona, woordvoeder vir die Gautengse departement van gesondheid, sê die drie verdagtes is Donderdag in hegtenis geneem. Dit volg nadat twee bokse Cytotec-tablette en 24 los tablette op 24 Augustus na bewering uit die fasiliteit gesteel is nadat ’n hangslot van ’n medisynekas glo gebreek is.
Volgens die departement is ’n lokval gestel ná inligting deur ‘n fluitjieblaser. Een van die verdagtes is glo betrap toe sy die gesteelde medikasie aan kliënte vir die beëindiging van swangerskap verkoop het. ’n Kliënt wat die medikasie gekoop het, het ondersoekers gehelp om die verdagte te identifiseer.
Verdere ondersoek het tot die inhegtenisneming van twee vermeende medepligtiges gelei. Die drie verdagtes word by die Orange Farm-polisiestasie aangehou en sal na verwagting Maandag in die hof verskyn.
Die departement waarsku die publiek teen die aankoop van medikasie vir die beëindiging van ‘n swangerskap deur onwettige kanale en sê veilige, wettige dienste is by openbare gesondheidsfasiliteite beskikbaar.
Lees meer hier onder:

