Ek weet nie of jy dit al agtergekom het nie, maar baie keer volg kinders dieselfde beroepsrigting as hulle ouers. Jy sien dit gereeld: die pa of ma is ’n dokter, en een — of selfs al die kinders — gaan ná skool die mediese wêreld binne. Dit geld net so vir onderwys, die polisie, sport en nog ’n duisend ander voorbeelde.
Wat ek ook al baie gesien het, is ouers wat ’n besigheid opbou as nalatenskap vir hulle kinders. Hier waar ek woon, sien jy dit gereeld: die pa begin ’n slaghuis en die kinders neem oor wanneer hy aftree. Ek werk self tans in ’n familiebesigheid — al is dit nie my familie s’n nie.
In baie gevalle is die kinders nog op skool en werk hulle naweke en vakansies in die familiebesigheid vir ’n ekstra sakgeldjie. Dit dien sommer ook as opleiding — ’n manier om te help bou aan jou toekoms wanneer jou ouers eendag aftree. Elke bietjie moeite en sweet wat jy insit, is nie verniet nie; dit bou aan ’n beter nalatenskap vir jou en vir die geslagte wat volg.
Jy word dalk nie so goed betaal soos jou maats wat elders werk nie — of dalk kry jy glad niks — maar dit is nie die punt nie. Die fokus is nie op wat jy nou ontvang of hoe lekker dit tans is nie; die fokus is op die toekoms.
En net so sien ek die Koninkryk van God.
Die meeste geleerdes stem saam dat Jesus tussen 80 en 100 keer oor die Koninkryk van God gepraat het. As jy mooi kyk, was dit die sentrale tema van Sy prediking.
As jy ’n kind van God is, dan is Sy Koninkryk jou nalatenskap — jou erfporsie. Die Woord sê ons is mede-erfgename saam met Christus Jesus. Maar in hierdie Koninkryk gaan dit nie oor geld of materialistiese dinge nie. Die belangrikste “wisselkoers” hier is mense.
Ons is die lewende stene wat help bou aan die toekomstige Koninkryk. Want alles op hierdie aarde is bestem tot vernietiging, behalwe die siel van die mens wat gered word.
Dit is soms moeilik om aan hierdie kant van die ewigheid die ware impak van jou werke te verstaan. Maar dink net hoe baie sekere mense nou vir jou beteken. Stel jou voor om eendag in die ewigheid te besef jy het ’n rol gespeel in iemand se redding. Jy sal daardie siel vir altyd waardeer.
En vir elkeen wat verlore gaan, is dit ’n verlies vir die toekomstige wêreld, want God wil nie hê dat enigiemand verlore moet gaan nie, maar dat almal tot bekering en tot kennis van die waarheid moet kom.
Al is dit ’n gesprek vir ’n ander dag, moet ons ook onthou: ons beloning gaan nie almal dieselfde wees nie. Die grootste beloning wat al Sy kinders ontvang, is die ewige lewe saam met God, maar ons individuele werke sal ook beoordeel en beloon word.
En ek weet nie van jou nie, maar ek wil nie met leë hande die ewigheid ingaan nie.
Daar is niks verkeerd daarmee om aan jou toekoms hier op aarde te bou of om vir jou geliefdes te sorg nie. Inteendeel, dit is ’n Bybelse beginsel. Maar die vraag bly: Waar lê jou primêre fokus?
Moenie net ’n nalatenskap vir jou kinders bou nie — bou ’n erfdeel wat saam met jou die ewigheid ingaan.
Die beste belegging is nie dié met die hoogste opbrengs nie, maar dié met die langste duur: die ewigheid.
Matteus 6:33
“Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.”





