Die Suid-Afrikaanse weerdiens (SAWD) het ’n ernstige weerwaarskuwing uitgereik vir dele van die Suid-Kaap, waar ’n afsny-laagdrukstelsel vanaf vandag tot Donderdag verwag word. Die stelsel sal na verwagting wydverspreide koue, nat en winderige toestande oor groot dele van die land veroorsaak, met ’n hoë risiko vir oorstromings in veral die Wes- en Oos-Kaap. ‘n Oranje Vlak 8-waarskuwing geld vir hierdie gebiede..
Oranje Vlak 8-waarskuwing: Meteoroloog Annette Botha sê reënval van tot tussen 150 mm en 200 mm kan oor die Tuinroete en omliggende berggebiede voorkom, wat gebiede wat reeds deur vorige oorstromings geraak is, verder kwesbaar maak. Die Oranje Vlak 8-weerwaarskuwing geld vir die oostelike dele van die Tuinroete-distriksmunisipaliteit in die Wes-Kaap, asook Nelson Mandelabaai- Metro-, Koukamma-, Kouga- en Sondagsriviervallei- plaaslike munisipaliteite in die Oos-Kaap tot Donderdag.
Oranje Vlak 5-waarskuwing: Ontwrigtende reënval wat kan lei tot lewensgevaar, oorstromings en die verskuiwing van nedersettings, asook modderstortings, word verwag oor Buffalo City Metro, Makana-, Ndlambe-, Ngqushwa-, Raymond Mhlaba-, Amahlathi- en Groot Kei- plaaslike munisipaliteite in die Oos-Kaap tot Donderdag.
Geel Vlak 4-waarskuwing: Ontwrigtende reënval wat kan lei tot oorstroming van nedersettings, paaie en brûe, asook kwesbare gebiede, word verwag oor dele van Swellendam- plaaslike munisipaliteit, asook die oostelike dele van die Sentraal-Karoo en die westelike dele van die Tuinroete-distriksmunisipaliteite in die Wes-Kaap tot Donderdag.
Geel Vlak 2-waarskuwing: Ontwrigtende reënval wat kan lei tot plaaslike oorstromings van paaie en kwesbare gebiede, word verwag oor die uiterste suidoostelike dele van die Noord-Kaap, Theewaterskloof en Langeberg- plaaslike munisipaliteite in die Wes-Kaap, asook Dr Beyers Naude-, Blue Crane Route-, Enoch Mgijima-, Intsika Yethu-, Great Kei- en Mnquma- plaaslike munisipaliteite in die Oos-Kaap tot Donderdag.
Geel Vlak 4-waarskuwing: Wind en golwe wat kan lei tot moeilike navigasie op see word verwag tussen Kaappunt en Plettenbergbaai tot Donderdag.
Geel Vlak 2-waarskuwing: Skadelike golwe wat klein vaartuie in gevaar kan stel om water in te neem of om te slaan, asook moeilike navigasie, word verwag tussen Plettenbergbaai en Oos-Londen tot Donderdag.
Geel Vlak 2-waarskuwing: Ontwrigtende sneeu wat tot ys op paaie en verkeersontwrigtings kan lei, word Donderdag oor die noordelike hoogliggende gebiede van die Oos-Kaap verwag.
Owerhede waarsku dat vinnig vloeiende riviere, oorvol damme en versadigde grond ernstige oorstromings kan veroorsaak, veral in laagliggende gebiede, brûe en informele nedersettings. Die publiek word dringend versoek om:
- Weervoorspellings en amptelike waarskuwings te monitor
- Nie oor oorstroomde paaie of riviere te probeer ry nie
- Onnodige reis tydens swaar reën te vermy
- Los voorwerpe buite vas te maak weens sterk winde
- Versigtig te wees naby kusgebiede en seeaktiwiteite te vermy
- Voldoende skuiling en warmte vir diere en troeteldiere te voorsien
Die SAWD sê die situasie kan verander namate nuwe weermodelle beskikbaar raak.
Bronne: South African Weather Service en Vox Weather





