Nuusflits-lesers het gister op Nasionale Hondedag foto’s van hul geliefde hondekinders gedeel. Van klein chihuahuas tot groot American Bullies het een ding duidelik geword: vir baie mense is ’n hond veel meer as net ’n troeteldier. Dis veral duidelik wanneer ’n mens kyk na die storie van Jinny Lu, ’n sesjarige reddings-pug wat as die wêreld se “lelikste” hond van 2026 gekroon is.
Die kompetisie – The World’s Ugliest Dog – het op 14 Augustus by die Sonoma County Fair in Santa Rosa, Kalifornië, plaasgevind en het vanjaar sy 50ste bestaansjaar gevier. Jinny Lu se eienaar, Michelle Grady, het met die oorwinning ’n prys van $5 000 ontvang. Jinny Lu is volgens die organiseerders in ’n houtkis in die koue berge van Suid-Korea gevind voordat sy na die Verenigde State geneem is. Grady het haar sowat vier jaar gelede aangeneem. Die kompetisie is nie bedoel om met honde se voorkoms te spot nie, maar om hul uniekheid te vier en aandag aan reddingshonde en aanneming te gee.
Liefde wat geen grense ken nie
Dit is ’n gevoel wat Nuusflits-lesers goed verstaan. Monica de Jongh beskryf haar hond Oreo as haar “lekkerste drukkie maatjie” en belowe om hom te vertroetel, te beskerm en lief te hê tot die einde toe. Vir Jolene Truter is haar American Bully, Bullet, veel meer as ’n hond. “Dis nie net ’n hond nie, hy is my ander seuntjie kind,” skryf sy en noem hom haar “soul dog”. Natasha Maree, wat 11 chihuahuas en ’n worshond het, het vertel hoe diep haar band met haar honde is. Sy sê haar honde het haar al baie keer deur moeilike tye gehelp.
Van tweede kanse tot familie
Aanneming was ook ’n sterk tema in die stories wat lesers gedeel het. Charmaine Schoeman het Napoleon by die DBV aangeneem en beskryf hom as “so lief”. Ockie Fourie beskryf sy twee honde as “weggooi kinders wat nou op hulle gelukkigste is”. Dan is daar lesers soos Anel Pelser, wat ’n hele klomp – tien honde – het. Onder hulle is Bakkies, ’n klein Yorkie van skaars 2 kg, Buddy, ’n tienjarige Yorkie, Olive, ’n miniatuur-Schnauzer wat sy “Baby Shark” noem, en Diego, die Staffie wat volgens haar elke dag, winter of somer, in die swembad spring. Lauren Coetzee noem haar drie honde eenvoudig haar “babies” en sê hulle sal nooit buite slaap nie en net liefde en warmte ken.
Ook die hartseer deel van liefde
Die lesers se stories het egter ook gewys dat die liefde vir ’n hond soms met groot verlies gepaardgaan. Elize Fouche het haar Sophia, haar maatjie van 13 jaar, vyf maande gelede verloor. “20 minute voor ek haar moes laat gaan, dankie vir 13 jaar se liefde en na 5 maande brand mammie se hart nog,” het sy geskryf. Susan Ferreira het net die vorige dag van haar hond Missy afskeid geneem en gesê: “My hart is in stukke.”
Nuusflits het gevra en ons lesers het geantwoord – met foto’s, trane en woorde vol liefde. Van klein chihuahuas tot groot American Bullies, elke hond het ‘n unieke plek in sy of haar eienaar se hart verower. Opvallend is hoeveel van hierdie geliefde diere aangeneem is en vandag as volwaardige gesinslede behandel word. Van Clarissa van der Westhuizen se 13 weke oue Lilly tot Martie van As se geliefde 11-jarige metgesel, het elke storie gewys hoe uniek die plek is wat ’n hond in ’n mens se lewe kan inneem. Belinda Wiggins beskou haar honde as haar kinders, terwyl Lazelle Cronjé haar hond Gysie as familie en “die beste boetie ooit” beskryf. En miskien is dit die grootste ironie van die wêreld se “lelikste” hond-kompetisie: ’n hond hoef nie volgens enige kompetisie se standaarde mooi te wees om vir iemand die mooiste hond in die wêreld te wees nie.
Bronne: Saamgestel deur Nuusflits, met dank aan al ons lesers wat hul stories gedeel het. World’s Ugliest Dog