As jy ’n sonkragstelsel laat installeer het, hetsy vir boerdery of huishoudelike gebruik, is dit belangrik om veiligheidsmaatreëls in ag te neem. Brande wat deur litiumioonbatterye en sonpaneelstelsels veroorsaak word, is wêreldwyd aan die toeneem. Volgens Tarien Cooks, ’n rampbestuurspesialis by AfriForum, bly veiligheidsregulasies en -standaarde agter in vergelyking met die vinnige ontwikkeling van tegnologie, wat verbruikers onvoorbereid laat.
AfriForum het nou riglyne saamgestel om mense te help voorberei vir brande wat deur hierdie stelsels veroorsaak kan word. Hierdie riglyne bevat voorsorgmaatreëls en instruksies oor wat om te doen en nie te doen tydens so ’n brand nie.
Van die wenke sluit in:
- Moenie litiumioonbatterye aan uiterste temperature blootstel nie.
- Installeer ’n Klas B-brandblusser naby die battery.
- Voer gereelde inspeksies en instandhouding op jou sonpaneelstelsel uit.
- Verseker dat sonpanele en litiumioonbatterye deur gekwalifiseerde, professionele persone geïnstalleer word volgens plaaslike bouvoorskrifte en veiligheidsregulasies.
Cooks verduidelik dat met die toename in die installering van sonpaneelstelsels en litiumioonbatterye, die risiko’s ook toegeneem het. As hierdie batterye oorverhit of verkeerd geïnstalleer is, kan hulle brand veroorsaak. Dit is beter om die batterye in ’n aparte kamer met ’n brandalarm te installeer waar die brand geïsoleer kan word indien nodig.
Gedurende ’n brand kan hierdie batterye ontplof, wat die vuur vinniger laat versprei. Hierdie brande is uiters warm en gee toksiese gasse af, dit is dus noodsaaklik dat mense bewus sal wees van die gepaste veiligheidsmaatreëls.
Bronne: OFM





