Ongeveer 05:00 komende Saterdagoggend 16 November 2024 behoort Mike Tyson en Jake Paul na die bokskryt uit te stap vir die hoofgeveg by die AT&T-stadion in Arlington, Texas.
Hierdie skouspel het die wêreld aan die gons, want dis twee baie gewilde vegters van verskillende eras wat mekaar gaan aanvat. Die legendariese Mike Tyson, wat absolute vrees by sy opponente ingeboesem het deur slegs na hulle te kyk, vat die probleemkind en sosialemedia-sensasie, Jake Paul, en glo dit of nie, ‘n verbasende goeie bokser met dinamiet in sy regterhand, aan.
Hierdie twee deel die kryt op Netflix Live, wat vir die eerste keer ‘n boksgeveg sal uitsaai. Dit sal ook beskikbaar wees op Jake Paul se Most Valuable Promotions YouTube-kanaal, dus hoef jy dit nie mis te loop nie.
Die stryd is aangekondig as ‘n professionele geveg, en is geskeduleer vir 8 x 2 min. rondtes. Normaalweg is ‘n rondte 3 min, maar daar is ‘n paar veranderings gemaak omdat hierdie nie ‘n normale geveg is nie. Die standaard grootte van ‘n swaargewighandskoen is 10 onse, maar in hierdie geval word 14 onse gebruik. Verder is alles dieselfde, en ‘n wen of verloor sal op die bokser se professionele rekord aangedui word.
Is dit moontlik dat Tyson op die ouderdom van 58 ‘n jong, 27-jarige Paul kan oorwin? Wel, in swaargewigboks is enigiets moontlik. My eerste vraag sal eerder wees of hierdie ‘n rêrige geveg sal wees, en of dit vooraf beplan is deur beide partye en voorafbepaal is soos ‘n rofstoeigeveg? Ek persoonlik dink hierdie is waaragtig, en beide hierdie manne gaan probeer om die ander van sy bewussyn te ontneem met soveel tegniek en geweld as moontlik.
‘n Prima Mike Tyson sou tien Jake Pauls na mekaar uitgeklop het, maar as gevolg van die ouderdomsverskil is hierdie ‘n baie moeilike een om te voorspel. Wat wel vir die “ouman” tel, is die feit dat hy nie soos enige ander 58-jarige is nie. Hy is ‘n bogemiddelde atleet, en geniet tans wetenskaplike voordele wat sy voorgangers nooit geken het nie, soos: testosteroonvervangingsterapie, elektriese spierstimulasie en stamselterapie. As jy na die oefenvideo’s kyk, sal jy sien dat hy in ‘n ongelooflike goeie kondisie is en nog net so gevaarlik lyk soos in die verlede. Uit ‘n tegniese oogpunt is sy twee grootste voordele die feit dat hy nogsteeds sy slaankrag het – want dit is die laaste ding wat ‘n vegter verloor – sowel as die feit dat sy boksgrondbeginsels nog altyd daar is en dit tot groot voordeel is, al is hy nie meer fisies so sterk soos vantevore nie.
Aan die ander kant hou Jake Paul ook ‘n paar groot voordele in, waarvan sy ouderdom natuurlik die beste is. Sy reageertyd, stamina en hersteltyd sal baie beter wees as sy ouer opponent s’n. Die ander een is die feit dat hy die afgelope vier jaar ‘n baie aktiewe bokser was, en dit maak jou tydsberekening baie skerp en jou liggaam reg vir ‘n strawwe geveg.
Uit ‘n praktiese oogpunt het Tyson ‘n baie moeilike styl vir Paul, want die een is ‘n binnevegter en die ander soek sy spasie. Indien Tyson met sy goeie kopbeweging binne Paul se afstand kan kom, mag dit ‘n rowwe, kort aand vir die YouTuber wees. Jake Paul se beste kans sal wees om die eerste drie rondtes te probeer oorleef en die ouer man sodoende moeg te maak en met punte te wen, of om hom met tyd af te breek en dalk te stop voor die laaste klok lui.
Is jy opgewonde oor die geveg, en wat is jou finale voorspelling van wie die wenner gaan wees?