Wie is die vrou aan die stuur van die polisie?

Lees ook :

Foto: SAPD

GAUTENG. – Lt.genl. Puleng Patricia Dimpane (49) is as die waarnemende nasionale polisiekommissaris aangewys en maak geskiedenis as een van die senior vroueleiers in die polisiediens. Dimpane het nie as ‘n rekruut by die polisie aangesluit, normale kollege-opleiding voltooi en daarna in operasionale hoedanigheid deur die range beweeg nie, maar het met akademiese kwalifikasies as ‘n senior superintendent by die polisie aangesluit.

Brig. Athlenda Mathe, nasionale polisiewoordvoerder, sê Dimpane is in Mahikeng in Noordwes gebore en beskik oor meer as 23 jaar ondervinding in die staatsdiens, waarvan 18 jaar op senior bestuursvlak. Sy het haar loopbaan in 2002 as assistent-staatsrekenmeester begin en het uitgebreide ervaring in ouditering, rekeningkunde en bestuur. Dimpane het by verskeie provinsiale departemente gewerk, insluitend sport, kuns en kultuur, die tesourie, gesondheid en onderwys.

Sy het in 2007 as ‘n senior superintendent by die polisie aangesluit, waar sy verantwoordelik was vir interne ouditering in die Vrystaat. Sy het daarna deur die range gevorder tot provinsiale hoof van finansies en administrasie op brigadiersvlak. Ná ses jaar is sy aangestel as finansiële hoof (CFO) by die Vrystaatse departement van ekonomiese ontwikkeling en toerisme, voordat sy na die polisie teruggekeer het as adjunk- provinsiale kommissaris vir batebestuur. In 2019 is sy bevorder tot afdelingskommissaris vir finansiële bestuursdienste.

Dimpane beskik oor ’n BCom-graad in ouditering en rekeningkunde, sowel as ’n honneursgraad in besigheidsadministrasie, en het verskeie kursusse in strategiese bestuur en leierskap voltooi. Sy word geloof vir haar professionaliteit, integriteit en kundigheid in korporatiewe bestuur. Onder haar leiding is die polisie se finansiële verslagdoening oor vyf agtereenvolgende jare verbeter. Sy dien tans ook op verskeie rade en in subkomitees.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief