GAUTENG. – Simon Wilken, ‘n gr. 1-leerling van Laerskool Wierdapark in Centurion en Jenni-Lee Hofmeester, sy ma, het Donderdag saam gesterf. ‘n Nadoodse verslag vir die oorsaak van hulle afsterwe word afgewag.
Volgens Rekord is houtskool in ‘n Weber-braaier in hulle huis aangesteek, waarna die liggame ontdek is. Kapt. Johan van Dyk, polisiewoordvoerder van Tshwane-distrik, sê aan Nuusflits ‘n geregtelike doodsondersoek is aanhangig gemaak.
Laerskool Wierdapark het die afsterwe van ma en seun in ‘n sosialemediaplasing bekend gemaak: “LIEFSTE WIERIE… Met onbeskryflike hartseer deel Laerskool Wierdapark die nuus van die afsterwe van een van ons Graad 1-leerders, Simon Wilken, asook sy mamma. Ons skoolgemeenskap is diep geraak deur hierdie groot verlies. Aan die familie, geliefdes en vriende betuig ons ons opregte simpatie, ondersteuning en gebede. Mag daar vir hulle troos en lig wees in hierdie moeilike tyd. Ons vra dat almal die familie se privaatheid in hierdie tyd sal respekteer en hulle in julle gebede sal opdra.
Medelye word van skole van heinde en verre op die skool se Facebook-blad onder die plasing betuig.








