Brekende Nuus
Misdaad

Wonder Boys-bendelede kry lewenslange tronkstraf vir marteling en moord

Foto: Ter illustrasie

WES-KAAP. – Wayne Jacobs, Thomas van der Merwe, Lee Malan en Zakier Abrahams van die Wonder Boys-bende is tot lewenslange tronkstraf gevonnis. Hulle is gevonnis vir die marteling en moord op Vinchernico Theron, vir wie hulle valslik daarvan beskuldig het dat hy ’n vuurwapen gesteel het.

Eric Ntabazalila, NVG-woordvoerder, sê Theron is op 6 Junie 2021 laas gesien. Sy ma, Charmaine Curtis, het hom twee dae later, nadat sy verneem het dat hy ontvoer is, as vermis by die Mitchells Plain-polisiestasie aangemeld. Miche Jacobs het glo bendelede opdrag gegee om Theron en Leon Paulse na Wayne Jacobs se huis in Drakensteinstraat, Tafelsig, Mitchells Plain, te neem. Die twee mans is daar oor ’n lang tydperk gemartel. Paulse is later vrygelaat nadat sy pa ingegryp en vir sy vrylating gepleit het.

Theron is herhaaldelik met kookwater gebrand. Die hof het gehoor dat Miche Jacobs telkens water gekook vir diegene wat die aanranding uitgevoer het. Abrahams het volgens die getuienis in ’n stadium vel van Theron se erg verbrande buik afgeskeur. Namate Theron se toestand versleg het, het Veronica de Jongh volgens die NVG gesê hy moet doodgemaak word omdat hy reeds naby die dood was. Abrahams en Keenan Coetzee het Theron daarna uit die huis verwyder en hom aan Jonathan Beukes en Faizel Manuel oorhandig. Hulle het hom volgens die getuienis in ’n asblik met wiele geplaas en met sy liggaam weggedoen. Theron se oorskot is nog nooit gevind nie.

Jaden Abrahams is tot 25 jaar direkte gevangenisstraf gevonnis, terwyl Coetzee effektief 22 jaar gekry het. Miche Jacobs is tot 20 jaar en De Jongh tot 12 jaar gevangenisstraf gevonnis. Beukes en Manuel is op die aanklagte van moord, twee aanklagte van ontvoering en aanranding met die opset om ernstig te beseer, vrygespreek. Hulle is egter skuldig bevind aan regsverydeling en elk tot effektief agt jaar direkte gevangenisstraf gevonnis.

Die beskuldigdes het onskuldig gepleit en verskeie alibi’s aangevoer. Die hof het egter hul weergawes as vals en onwaarskynlik bevind.