GAUTENG. – Altesaam 10 verdagtes is in hegtenis geneem nadat vragmotorsleepwaens met gelaaide goedere, wat na bewering gekaap is, op Tambokiesfontein-plaas in Zonkizizwe teruggekry is.
Die Gautengse departement van gemeenskapsveiligheid sê in ‘n sosialemediaplasing inligting is oor ‘n gekaapte vragmotor ontvang, waarna ’n gesamentlike operasie tussen die SAPD, Night Hawks Security en die GTW Essential Infrastructure Task Team geloods is. Met die inligting ter hand is die span na die plaas gelei en twee vragmotorsleeppwaens met gelaaide goedere is teruggevind. Twee gelisensieerde vuurwapens en ‘n voertuig wat glo tydens die misdaad gebruik is, is deur die polisie in beslag geneem.
Die verdagtes sal na verwagting binnekort in die hof verskyn op aanklagte wat met kaping en verwante misdade verband hou. Die ondersoek duur voort.





