GAUTENG. – Altesaam 10 lede van die polisie (SAPD) en die Ekurhuleni-metropolisie (EMPD) sal vandag (Dinsdag) hul eerste verskyning op aanklagte van korrupsie en diefstal in die Germiston-landdroshof maak.
Lizzy Suping, Opod-woordvoerder, sê in ‘n verklaring daar word beweer die beamptes het op 4 Junie tydens ’n multidissiplinêre wetstoepassingsoperasie wat deur die premier van Gauteng geïnisieer is, ’n winkel in Hermilalaan 7 in Edenvale betree. Tydens dié klopjag is sigarette gekonfiskeer, asook kontant en drie pakkies hoofpynpille (Panado’s) geneem. Die kassier is vir die verkoop van onwettige sigarette en ’n ander werknemer vir die oortreding van immigrasiereëls in hegtenis geneem.
Daar word verder beweer dat die beskuldigde beamptes versuim het om al die gekonfiskeerde goedere by die polisiekantoor aan te teken. Die winkelbestuurder het glo die hoeveelheid en tipe items wat in die polisie se voorvalleboek aangeteken is, by die stasiebevelvoerder betwis.
Die tien verdagtes – konstabels en een sersant – is Maandag in hegtenis geneem terwyl hulle aan diens was. Hulle word tans by die Germiston-polisiekantoor aangehou.