VRYSTAAT. – 10 verdagtes – een vrou (47) en nege mans – is in Odendaalsrus in hegtenis geneem oor ’n bedrogsaak wat met ’n banklening verband hou. Dit volg nadat die vrou glo probeer het om ’n lening van R250 000 met drie vervalste salarisstrokies te kry.
Sers. Palesa Thabana sê die polisie is Woensdag oor ‘n beweerde agterdogtige leningsaansoek ingelig. Die lening was reeds voorlopig goedgekeur, maar daar is gevind dat die salarisstrokie wat deur die aansoeker ingedien is, vervals was. ‘n Ondersoek het aan die lig gebring dat al drie salarisstrokies wat die vrou ingedien het, vervals was. Verdere ondersoek het onthul dat sy vermoedelik met ’n Gauteng-gebaseerde sindikaat, wat na bewering reeds verskeie finansiële instellings bedrieg het, saamwerk.
‘n Beskrywing van die verdagtes en hulle voertuie is bekom, waarna ’n operasie deur verskeie eenhede geloods is. Die verdagtes is opgespoor en vasgetrek, insluitend ‘n bestuurder van ‘n voertuig wat aanvanklik ontsnap het, maar later in Welkom gevang is.
Verskeie bankkaarte en twee voertuie – ’n silwer Suzuki 7-sitplek en ’n wit Toyota Tazz – is deur die polisie gekonfiskeer. Die verdagtes sal op 7 April op klagtes van bedrog in die Odendaalsrus-landdroshof voorkom.




