OOS-KAAP. – Die polisie het Donderdag 11 liggame agter in ’n Toyota Hilux-bakkie aangetref nadat hulle die voertuig op die N6 naby KuGompo voorgekeer het. Die dokumente vir die vervoer van die liggame was in orde en die polisie vermoed geen misdryf nie.
Kol. Siphokazi Mawisa, polisiewoordvoerder, sê lede van KuGompo se honde-eenheid en blitspatrollie het omstreeks 12:30 inligting ontvang dat ’n wit enkelkajuitbakkie met ’n wit kappie moontlik liggame vervoer. Hulle het die bakkie kort voor die Lion Park-afdraai in die rigting van KuGompo gewaar en dit by Ducats North voorgekeer. Die beamptes het die bestuurder gevra om die kappie oop te maak en het die 11 liggame binne aangetref.
Die bestuurder het die dokumente vir die vervoer van die liggame aan die polisie getoon. Beamptes het die bakkie na die Beacon Bay-polisiekantoor begelei, waar omgewingsgesondheidsbeamptes en die eenheid vir vermiste persone gekontak is. Die bakkie is daarna na die staatsforensiese patologiediens begelei, waar die dokumente nagegaan en in orde bevind is.