Brekende Nuus
Nuus

Black Friday: Polisie waarsku kopers oor gevare by kitsbanke

Foto: Ter illustrasie

NOORD-KAAP. – Die Noord-Kaapse polisie vra kopers om met Black Friday by kitsbanke en winkelsentrums op hul hoede te wees en aanlyn aanbiedings deeglik na te gaan voordat hulle betaal. Groter skares by winkels en kitsbanke kan volgens die polisie misdadigers meer geleenthede gee om kopers te teiken.

Die Noord-Kaapse polisie raai kopers aan om kitsbanke in besige winkelsentrums of supermarkte te gebruik en so min moontlik kontant te dra. Hou jou bankkaart gereed, bedek die sleutelbord wanneer jy jou PIN invoer en aanvaar slegs hulp van gemagtigde bankpersoneel. Bêre jou geld dadelik ná die transaksie en maak seker jy neem jou kaart en strokie. Indien jy vermoed iemand volg jou, gaan na die naaste polisiestasie of ’n besige, goed beligte plek.

Kopers wat aanlyn inkopies doen, moet seker maak die webwerf is veilig en die verkoper betroubaar. Wees versigtig vir aanbiedings wat te goed lyk om waar te wees en moet nooit jou PIN, wagwoorde of bankbesonderhede met iemand deel wat daarvoor vra nie. Die polisie vra die publiek om verdagte bedrywighede aan te meld.

Bron: SAPD, SA News