VRYSTAAT. – ’n 13-jarige seun is Saterdagmiddag in Thabong in hegtenis geneem,nadat hy glo met ’n Norinco-pistool en sewe rondtes lewendige ammunisie betrap is.
Sers. Palesa Thabana, polisiewoordvoerder, sê beamptes van die Welkom-openbare-orde-polisiëring het omstreeks 17:00 inligting ontvang oor ’n persoon wat vermoedelik in besit van ’n vuurwapen was. Die polisie is na ’n adres in Thabong waar hulle glo gesien het hoe die verdagte oor ’n heining spring. Hy is ná ’n agtervolging in ’n nabygeleë oop veld vasgetrek.
’n Deursoeking het die vuurwapen en ammunisie aan die lig gebring. Daar is later vasgestel dat die verdagte 13 jaar oud is en dat die vuurwapen glo aan sy oupa behoort het. Voorlopige ondersoeke het getoon dat die kluis waarin die vuurwapen gestoor is, oopgebreek is om toegang daartoe te verkry.
Die seun is op aanklagte van die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie in hegtenis geneem. ’n Proefbeampte is ontbied die seun in die toesig van sy ouers vrygelaat nadat die nodige dokumentasie afgehandel is. Hy sal na verwagting later in die Welkom-landdroshof verskyn.