MPUMALANGA. – ‘n Verdagte seun (13) het glo Saterdag sy neef (15) in Verena met ‘n vuurwapen wat hy afgevuur het, op die wang getref. ‘n Saak van poging tot moord word teen die verdagte seun ondersoek.
Lt.kol. Jabu Ndubane sê volgens die verslag is die polisie na ‘n klagte by die Verena-kliniek ontbied. Die slagoffer (15) is met ‘n skietwond aan sy wang in ‘n hospitaalbed aangetref. Die polisie is meegedeel hy is glo deur sy jonger neef geskiet.
Tydens ondersoek is onthul die verdagte het glo sy pa se kluissleutels uit ‘n kas gesteel, waarna hy die vuurwapen uit die kluis gehaal het. Hy het na bewering met die vuurwapen gespeel toe die skoot afgaan en die slagoffer in die gesig tref. Die slagoffer is daarna vir mediese hulp na ‘n hospitaal en die verdagte na ‘n polisiestasie toe geneem. Die verdagte is in die sorg van sy ouers vrygelaat.
Ndubane sê die verdagte seun sal Woensdag op aanklag van poging tot moord in die Mkobola-landdroshof verskyn. Sy pa is vir die nalatige hantering van ‘n vuurwapen aangekla.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





