14 seereddingsvoorvalle in paar dae – waarskuwing vir springgety uitgereik

Lees ook :

Foto: NSRI

Regoor Suid-Afrika het die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) en verwante rolspelers tussen 31 Desember 2025 en 2 Januarie 2026 altesaam 14 afsonderlike seereddingsvoorvalle hanteer. Die NSRI waarsku dat die volmaan-springgety op 5 Januarie sy hoogtepunt sal bereik en dit sal weereens sterker en gevaarlike strome in die see veroorsaak.

Luidens ‘n verklaring deur Craig Lambinon is twee 21-jarige mans in Pennington in KZN dood verklaar nadat vyf mense op een slag deur strome meegesleur is. Drie mans is steeds vermis en soekoperasies na hulle duur voort. In afsonderlike voorvalle in dié provinsie word ‘n 15-jarige seun sedert Donderdag in St. Lucia gesoek, toe drie persone, insluitend die seun, in die moeilikheid geraak het. Mans word ook sedert Vrydag afsonderlik in Durban, Shelly Beach en Ballito vermis.

In die Wes-Kaap het ’n 38-jarige man Donderdag in die Strand en ’n 26-jarige man Vrydag by Langebaan verdrink. In Knysna is ‘n 13-jarige seun se lewe Donderdag met KPR gered. ‘n Volwassene en ‘n 18-jarige kon ook in Hermanus gered word. In Plettenbergbaai is vier mense, insluitend ‘n 7-jarige kind, in drie voorvalle sedert Woensdag gered. Gedurende een van die voorvalle het Dylan Yorke (16) ‘n volwasse man gered en hy is daarvoor geprys.

By Seal Point, Kaap St Francis, in die Oos-Kaap, het ‘n katamaran Donderdag gestrand, waartydens al vier die bemanningslede, twee vroue en twee mans, veilig gered kon word.

Lambinon waarsku weer dat die publiek slegs by strande moet swem waar lewensredders aan diens is en die weer, asook gety-inligting, moet dophou.

Mike Vonk, NSRI-HUB, het sy waardering uitgespreek teenoor die vrywilligers, skenkers en families wat die reddingswerk van die Nasionale Seereddingsinstituut moontlik maak. Hy beklemtoon dat hul bydraes noodsaaklik is om lewens langs die Suid-Afrikaanse kus te red.

Meer voorvalle is kort na publisering gerapporteer. Vrydag in Umkomaas is ‘n tiener gered maar sy broer (21) is steeds vermis. In Gqeberha is ‘n man sedert Vrydag steeds in die see vermis. ‘n Visserman kon die man se suser wat saam met hom in die moeilikheid gekom het na veiligheid help.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief