KWAZULU-NATAL. – Maria King (15) draf elke dag van hierdie maand 5 km in pienk om die publiek bewus te maak dat daar ‘n behoefte onder skoolmeisies vir sanitêre ware is, en om sanitêre doekies in te samel.
Sy het ‘n passie vir vroueregte en hoop met bewusmaking sal alle vroue, skoolmeisies ingesluit, toegang tot sanitêre ware hê.
King se navorsing het aangedui hoe armoede vroue benadeel. In Suid-Afrika mis 7 miljoen meisies, weens armoede, 25% van hul skooljaar omdat hulle nie sanitêre doekies kan bekostig nie en liewer op “daardie dae van die maand” nie skool toe gaan nie Meisies wat nie toegang tot sanitêre ware het nie, sal liefs eerder tydens menstruasie tuisbly, wat ‘n negatiewe invloed op hulle skoolopvoeding het.
King hoop haar bewusmaking sal ander mense op dieselfde manier beïnvloed as wat dit vir haar het. Sy het selfs ander drawwers genooi om pienk aan te trek en so van die bewusmaking deel te wees.
Volg King op Wearing Pink Proud – op Instagram om haar te ondersteun en om te sien waar donasies gegee kan word.
Bronne: Wearing Pink Proud Instagram, Good Things Guy en Tabloid Newspapers