Brekende Nuus
Nuus

15-jarige in hegtenis ná gesteelde voertuig opgespoor is

Foto: Ter illustrasie

OOS-KAAP. – ’n 15-jarige seun is in hegtenis geneem nadat hy glo in ’n gesteelde voertuig naby Mthatha Ultra City in die Oos-Kaap betrap is. Die voertuig is Woensdag 14 Oktober omstreeks 02:00 uit ’n motorhuis in die KwaLindile-omgewing gesteel.

Mthatha- sentrale polisiekantoor se beamptes vir misdaadvoorkoming het die voertuig opgespoor en naby die Ultra City tot stilstand gebring, waarna die tiener in hegtenis geneem is. Kapt. Welile Matyolo, polisiewoordvoerder, sê ’n proefbeampte is geraadpleeg en die nodige dokumentasie vir ’n minderjarige wat in konflik met die gereg is, is voltooi. Die seun is daarna na ’n jeugsentrum oorgeplaas en sal na verwagting binnekort in ’n kinderhof verskyn.

Genl.maj. Norman Modishana, OR Tambo-distrikskommissaris, het sy teleurstelling uitgespreek dat ’n kind wat veronderstel is om op skool te wees en vir ’n beter toekoms voorberei te word, by ’n misdaad betrokke is.