17-jarige sterf toe hy glo ‘n ander seun van aanval wou red

Lees ook :

Foto: BackaBuddy

KWAZULU-NATAL. – Henrico Oosthuizen (17) van Newcastle het aan sy beserings gesterf nadat hy Sondag 7 Desember ernstig beseer is toe hy glo probeer help het toe ‘n ander seun in sy buurt aangeval word.

Volgens inligting wat deur die familie op ‘n BackaBuddy-profiel gedeel is, was Henrico op pad huis toe toe hy ’n ander seun sien wat met ’n bottel aangeval word. Terwyl hy na die seun beweeg het, is hy van agter af aangeval en met ’n voorwerp teen die kop geslaan. Die aanvallers het daarna in ’n voertuig weggejaag.

Henrico is bewusteloos na ’n privaat kliniek gehaas omdat die familie na bewering die staats­hospitaal as onveilig in die nag beskou het. Hy is onmiddellik opgeneem, maar die gesin moes ‘n aansienlike bedrag vir noodbehandeling betaal. As gevolg van ernstige kopbeserings is hy in ’n geïnduseerde koma geplaas. Dokters het noodbrein­chirurgie aanbeveel. Die hospitaal het vooruitbetaling geëis voordat hy opgeneem kon word, waarvoor die gesin geld geleen het.

Ondanks die ingryping het Henrico se toestand nie verbeter nie en is hy Maandagoggend aan sy beserings oorlede. ’n Aanlyn fondsinsamelingsveldtog is deur vriende en ondersteuners van die familie begin om die uitstaande mediese koste, insluitend vir die operasie, spesialisfooie en versorging in die intensiewe eenheid te help betaal.

Volgens die BackaBuddy-profiel het die polisie nog geen verdere besonderhede oor die aanvallers bekend gemaak nie. Ondersoeke duur voort.

Kol. Robert Netshiunda, polisiewoordvoerder, sê aan Nuusflits ‘n man (26) is in hegtenis geneem vir aanklagte van moord en aanranding met die doel om ernstige liggaamlike beserings aan ter rig, nadat twee persone glo Sondag in in Gemsbokstraat in Newcastle met ‘n bofbalstok aangeval is. Die slagoffers, onderskeidelik 17 en 22 jaar oud, het kopbeserings opgedoen en is na ‘n hospitaal geneem, waar die 17-jarige later aan sy beserings beswyk het.

Die verdagte sal vandag, 10 Desember, op aanklagte in die Newcastle-landdroshof verskyn.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief